Welkom

Voorspoedige 2012

Welkom by die webblad van die
NG Gemeente Franschhoek.

By Franschhoek is daar allerlei skakels
na plekke in Franschhoek.

Ons foto-album het 'n klompie foto's. 

By Huwelike kry u nie net al die vorms nie,
maar ook 'n kaart.

By Program kan u na ons almanak kyk
of vorige weke se aankondigings aflaai.

Laai hierdie week se Gemeentenuus
hier af:  5 Februarie 2012

Aartsbiskop Desmond Tutu die spreker by die loodsing van die Franschhoekvallei se Transformasie Handves

Die Transformasie Handves van die Franschhoekvallei word amptelik om 17.30 op Donderdag 16 Februarie 2012 in die NG Kerk in Franschhoek geloods. Emeritus Aartsbiskop Desmond Tutu sal die spreker wees. Hy het aangebied om as beskermheer van die Handves te dien toe hy daarvan hoor, en gesê: "Dis net wat Suid-Afrika nou nodig het." Tydens die geleentheid sal verskillende kore liedere van versoening en hoop sing. Dit is die hoogtepunt van 'n proses wat drie jaar gelede begin is deur 'n groep van sowat 30 inwoners van die Franschhoek vallei. Wat die mense uit verskillende kultuurgroepe en werksverband byeengebring het om elke maand eenmaal informeel te vergader, was hul kommer oor die skeidslyne tussen die verskillende gemeenskappe in die vallei. Hierdie skeiding is vererger deur ongelykheid in onderwys, gesondheidsdienste, behuising en werkgeleenthede. Die groep het gevoel dat die ongelyke verdeling van hulpbronne nie volhoubaar is in so 'n vallei wat bekend is vir sy natuurskoon, aantreklikheid vir toeriste en vir die luukse lewensstyl van sommige inwoners nie. Aanvanklik het die groep die algemene gevoel van apatie en traak-my-nie-agtigheid hieroor in die vallei bespreek. Die gebrek aan kommunikasie en interaksie tussen die verskillende gemeenskappe is ook gedebatteer. Daar bestaan talle uitmuntende ontwikkelingsprogramme wat deur individue en nie-regeringsinstellings bedryf word, maar dit fokus nie op die grondliggende probleme nie. Die diepliggendste uitdaging is dat die mense wat in die vallei woon, nie 'n ware gemeenskap vorm nie. Hier is ten minste drie gemeenskappe wat deur die geskiedenis onderling verdeel en ongelyk geraak het. Dit is tragies dat hulle mekaar nie ken of vertrou nie, al deel hulle dieselfde omgewing en toekoms. Gevolglik beskou hulle mekaar in terme van "ons" en "hulle." Die groep wou poog om iets hieraan te doen deur 'n Transformasie Handves op te stel, wat as kompas kan dien in die poging om groter gelykstelling te bewerkstellig. Inwoners van die vallei is genader met die versoek om deel te neem aan die proses. Dit is nie politieke optrede nie, maar 'n burgerlike inisiatief - 'n basiese geloof by gewone mense dat hulle self verbetering kan bring in hul omstandighede. Hulle bepaal hul eie toekoms. Die groep is terdeë bewus dat aksieprogramme nodig is om drome in werklikhede om te skakel. Daarom is 'n eerste belangrike fokuspunt die onderwys. Die doel is om die behoeftes van al die vallei se kinders aan te spreek, en te wys wat dit vir 'n gemeenskap beteken om om te sien na sy eie belange, en daarom ook sy eie toekoms. Die eerste projek wil die skeidslyne tussen die gemeenskappe oorbrug, en billiker toegang tot geleenthede bewerkstellig. In vooruitsig is projekte wat op velde soos vaardigheidsontwikkeling, bemagtiging en kultuur sal toespits. Die doel is om toegang tot skaars hulpbronne te vergemaklik.

Laai die volledige Transformasie Handves  hier af:  Handves.pdf
Die verkorte handves kan ook hier afgelaai word: Handves_Kort.pdf

Download the full text of the  Transformation Charter  here:  Charter.pdf
A shorter version of the Charter is also available. Click here: Charter_Short.pdf

Download the Xhosa text of the  Transformation Charter  here:  Xhosa_Charter.pdf
A shorter Xhosa version of the Charter is also available. Click here: Xhosa_Charter_Short.pdf

Lees vanjaar die hele Bybel

In die Bybel is daar altesaam 66 boeke en 1 189 hoofstukke (929 in die Ou Testament en 260 in die Nuwe Testament). Die Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel van 1983 bevat 794 799 woorde en 3 194 353 letters. Daar is 31 175 verse in die Bybel (23 216 in die Ou Testament en 7 959 in die Nuwe Testament). As jy die Bybel in een jaar wil deurlees is dit loshande die maklikste om bloot elke dag drie hoofstukke in die Bybel te lees. Sondae moet jy egter vyf hoofstukke lees. Aangesien daar net mooi 260 hoofstukke in die Nuwe Testament is, kan jy Sondae 5 hoofstukke in die Nuwe Testament lees en die res van die week drie hoofstukke uit die Ou Testament. Hierdie leeswerk duur sowat 10 minute vir die gemiddelde leser. Die alternatief is om 85 verse per dag te lees – dan sal jy ook die Bybel in een jaar deurlees. As jy nou wil begin moet jy teen Sondag 15 Januarie Genesis 1 tot 32 en Matteus 1 tot 15 gelees het. Laai ons lekker veeldoelige leesgids hier af.

Bid gedurig

1 Tessalonisense 5 vers 17: Bid gedurig.
Johannes 15 vers 7: As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.
Jakobus 5 vers 16(b): Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.