Franschhoek
Aartsbiskop Desmond Tutu die spreker by die loodsing van die Franschhoekvallei se Transformasie Handves
Die Transformasie Handves van die Franschhoekvallei word amptelik om 17.30 op Donderdag 16 Februarie 2012 in die NG Kerk in Franschhoek geloods. Emeritus Aartsbiskop Desmond Tutu sal die spreker wees. Hy het aangebied om as beskermheer van die Handves te dien toe hy daarvan hoor, en gesê: "Dis net wat Suid-Afrika nou nodig het." Tydens die geleentheid sal verskillende kore liedere van versoening en hoop sing. Dit is die hoogtepunt van 'n proses wat drie jaar gelede begin is deur 'n groep van sowat 30 inwoners van die Franschhoek vallei. Wat die mense uit verskillende kultuurgroepe en werksverband byeengebring het om elke maand eenmaal informeel te vergader, was hul kommer oor die skeidslyne tussen die verskillende gemeenskappe in die vallei. Hierdie skeiding is vererger deur ongelykheid in onderwys, gesondheidsdienste, behuising en werkgeleenthede. Die groep het gevoel dat die ongelyke verdeling van hulpbronne nie volhoubaar is in so 'n vallei wat bekend is vir sy natuurskoon, aantreklikheid vir toeriste en vir die luukse lewensstyl van sommige inwoners nie. Aanvanklik het die groep die algemene gevoel van apatie en traak-my-nie-agtigheid hieroor in die vallei bespreek. Die gebrek aan kommunikasie en interaksie tussen die verskillende gemeenskappe is ook gedebatteer. Daar bestaan talle uitmuntende ontwikkelingsprogramme wat deur individue en nie-regeringsinstellings bedryf word, maar dit fokus nie op die grondliggende probleme nie. Die diepliggendste uitdaging is dat die mense wat in die vallei woon, nie 'n ware gemeenskap vorm nie. Hier is ten minste drie gemeenskappe wat deur die geskiedenis onderling verdeel en ongelyk geraak het. Dit is tragies dat hulle mekaar nie ken of vertrou nie, al deel hulle dieselfde omgewing en toekoms. Gevolglik beskou hulle mekaar in terme van "ons" en "hulle." Die groep wou poog om iets hieraan te doen deur 'n Transformasie Handves op te stel, wat as kompas kan dien in die poging om groter gelykstelling te bewerkstellig. Inwoners van die vallei is genader met die versoek om deel te neem aan die proses. Dit is nie politieke optrede nie, maar 'n burgerlike inisiatief - 'n basiese geloof by gewone mense dat hulle self verbetering kan bring in hul omstandighede. Hulle bepaal hul eie toekoms. Die groep is terdeë bewus dat aksieprogramme nodig is om drome in werklikhede om te skakel. Daarom is 'n eerste belangrike fokuspunt die onderwys. Die doel is om die behoeftes van al die vallei se kinders aan te spreek, en te wys wat dit vir 'n gemeenskap beteken om om te sien na sy eie belange, en daarom ook sy eie toekoms. Die eerste projek wil die skeidslyne tussen die gemeenskappe oorbrug, en billiker toegang tot geleenthede bewerkstellig. In vooruitsig is projekte wat op velde soos vaardigheidsontwikkeling, bemagtiging en kultuur sal toespits. Die doel is om toegang tot skaars hulpbronne te vergemaklik.
Laai die volledige Transformasie Handves
hier af: Handves.pdf
Die verkorte handves kan ook hier afgelaai word: Handves_Kort.pdf
Handves vir die transformasie van die Franschhoekvallei
[1.1 Die beginsel van ’n gedeelde toekoms]
Ons, die mense van die Franschhoekvallei, vorm ’n gemeenskap, dit wil sê ons is ’n groep mense wat op dieselfde plek en tyd saam lewe en werk. Ons beïnvloed daarom mekaar in ons daaglikse bestaan, of ons dit wil erken of nie. Ons deel ook die bestemming waaraan ons vorm gee – goed of sleg – as ons gesamentlike verantwoordelikheid.
[1.2 Die beginsel van verligte eie-belang]
Ons glo dat as ons ons kinders én komende geslagte se lewenskwaliteit wil beskerm en verbeter, ons aandag sal moet gee aan mekaar se omstandighede en die omgewing wat ons deel. Om onsself te help, moet ons ander help. As ons nie die behoeftes, verwagtinge en potensiaal van ander in ag neem nie, sal ons uiteindelik ook ons eie behoeftes, verwagtinge en potensiaal ondermyn. Dít sal ons nalatenskap aan die toekomstige geslagte wees.
[1.3 Die beginsel van goeie trou]
Dit is nie vir ons maklik om saam ’n gemeenskaplike bestemming te beplan nie. Ons is nie daaraan gewoond nie. Ons verhoudings dra die letsels van agterdog, wat uit ’n lang geskiedenis van konflik en misbruik spruit. Hierdie pynlike geskiedenis het vir ons almal op een of ander manier probleme veroorsaak: materieel, maatskaplik en godsdienstig. Die probleme wat uit ons gemeenskaplike geskiedenis spruit, is nog steeds met ons. So stel ons eise oor ons verblyfsreg: wié hier mag wees, en wie nie. En vergeet al te maklik dat ons mooi vallei – soos ons hele land – aan almal behoort wat hierin woon. Al is ons nie aandadig aan al die huidige probleme nie, moet elkeen die verantwoordelikheid aanvaar om daarvoor in goeder trou oplossings te vind.
Die transformasie van ons dorp en vallei begin by ons eie verandering; dit begin in ons harte. As ons onsself bevry, maak ons ander vry. Wanneer ons onsself hiertoe verbind, mag die onskatbare waarde wat integriteit, eerlikheid, vertroue en lojaliteit bied, ons vergoeding word, ongeag wat ons stoflike omstandighede mag wees. Slegs dan kan ons ons onderlinge verskille vier.
Met hierdie doel voor oë, bevestig ons die volgende:
[2.1 Die probleem van etniese segregasie]
Al is ons ’n gemeenskap, lewe ons in verskillende wêrelde. Die maatskaplike samestelling van ons vallei – die patroon van vestiging en assosiasie (hoofsaaklik in verhouding tot etnisiteit, maar ook taal, kultuur, oorsprong, godsdiens en politieke verbintenis) is skerp verdeel. Al deel baie van ons mense tale en kulturele praktyke, is ons steeds grotendeels gesegregeer in die etniese groeperings wat deur apartheid geïnstitusionaliseer is. Alhoewel ons lotgevalle ooglopend verstrengel is, het ons steeds relatief min met mekaar te doen, veral in ons alledaagse omgang.
Ons ken mekaar nie regtig nie, en voel, of tree daarom nie op soos ’n hegte, geïntegreerde gemeenskap nie. Ons is geneig om onsself nie as die gemeenskap van Franschhoek te beskou nie, maar as ‘ons en hulle’, as verskillende gemeenskappe.
[2.2 Die probleem van uiterste ongelykhede]
Ons is nie net onderling verdeel nie; ons is ook ongelyk. Die besit van hulpbronne – veral finansiële bates – is baie skeef verdeel in ons gemeenskap, grotendeels in ooreenstemming met etniese verskille. Hierdie ongelykheid is baie erg in ons vallei, dalk selfs erger as elders in ons land. Die rede is nie dat ’n besonder groot deel van ons gemeenskap arm is nie, maar dat so ’n groot aantal ryk mense langs die armes leef. Dit is kommerwekkend, maar skep ook unieke geleenthede. Ons vallei het beslis nie ’n tekort aan hulpbronne nie.
[2.3 Die probleem van vaste siklusse van ongelykheid]
Soos gewoonlik, beïnvloed die besit van finansiële bates toegang tot hulpbronne van allerlei aard. Die ongelyke verdeling van welvaart word dan weerspieël en vermenigvuldig in talle verskille waarin opeenvolgende geslagte vasgevang sit. Die belangrikste hiervan is verskille in toegang tot werk- en sakegeleenthede, onderwys, behuising, gesondheidsdienste, veiligheid, vervoer, kinderversorging, sport en ontspanningsfasiliteite. Die ontasbare verskille in selfvertroue en selfstandigheid is net so belangrik. Talle lede van ons gemeenskap is so deur hul verlede tot op die rand uitgedryf en benadeel, dat hulle tans nie die beskikbare geleenthede ten volle kan benut nie. Daarom is dit nie genoeg om net die speelveld gelyk te maak nie; stappe moet daadwerklik geneem word om die skade van die verlede reg te stel en tekortkominge te verlig. Ons erken dat hierdie tekortkominge en ongelykhede ons in ’n bose sirkel sal vasknoop wat die slagofferskap van die armes sal voortsit – as ons nie iets daaraan doen nie – en selfs die ongelykheid in ons midde vergroot.
[3.1 Die herbevestiging van onderlinge interafhanklikheid]
Al die onbillikheid – én die vrees en vervreemding, arrogansie en ontkenning, frustrasie en wrok, wanhoop en skaamte wat dit skep – bring vir ons almal skade. Van die opsigtelikste skadelike gevolge is die ergerlike misdaad, haat (ook self-haat), wye drank en dwelmmisbruik, huishoudelike geweld, die verwaarlosing van kinders, rondlopery en bedelary, vreemdelingehaat, moedverlorenheid en ’n traak-my-nie-agtigheid oor die toekoms, en slagofferskap teenoor gierigheid en die oordrag van materialistiese en selfsugtige waardes. Hierdie negatiewe gevolge versterk mekaar onderling, en vermenigvuldig al te maklik. Baie daarvan is subtiel, selfs listig van aard, maar dit bly vernietigend vir ons almal.
[3.2 Erkenning van ’n gedeelde omgewing]
Gegewe hierdie nypende probleme, word dit maklik uit die oog verloor dat ons almal afhanklik is van die fisieke welstand van die vallei. Behalwe as ons die beperkte hulpbronne in ons omgewing op ’n verantwoordelike en volhoubare manier bestuur en beskerm, en dit billik verdeel, sal ons almal uiteindelik die prys daarvan betaal, en ons kinders nog meer so.
[3.3 Herbevestiging van die verskille tussen die staat en die burgerlike gemeenskap]
Die burgers van ’n demokratiese staat verwag van hul verkose verteenwoordigers – op alle regeringsvlakke – om van hierdie nypende probleme aan te spreek. Ons sal dit aanhou verwag, asook leierskap, én die lewering van sekere dienste, én die duidelike afbakening van verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid. Omdat ons probleme egter nie uitsluitlik die regering se verantwoordelikheid is nie, onderneem ons, die mense van die Franschhoekvallei, om die volgende te doen:
[4.1 Ons taak voortspruitende uit probleem 2.1]
Ons sal saamwerk om ’n meer geïntegreerde en hegte gemeenskap te vorm. Ons sal die skeidslyne tussen ons probeer oorbrug, hoofsaaklik dié van etnisiteit, maar ook van taal, kultuur, oorsprong, godsdiens en politieke lidmaatskap.
Dit kan op verskeie maniere en op verskillende vlakke gedoen word. Dink byvoorbeeld aan sosiale uitnodigings en die aanvaarding daarvan, of die organisering van ope byeenkomste en feeste vir die gemeenskap. Deurgaans moet die gevolge van plaaslike ontwikkelings vir alle groepe in ons gemeenskap in ag geneem word.
[4.2 Ons taak voortspruitende uit probleem 2.2]
Ons sal saamwerk om ’n meer gelyke, welvarende en opgevoede gemeenskap tot stand te bring. Ons sal ons verskeidenheid vermoëns, talente en vaardighede bydra om die lyding en onwaardigheid van die armes te verlig, om mense van die buiterand na binne te bring, en om ons plaaslike ekonomie so te laat groei en ontwikkel dat dit werksgeleenthede skep vir almal wat wil werk.
Dit vereis allerlei inisiatiewe: van liefdadigheid tot belegging in maatskaplike ondernemings, mikrolenings en die aanpak van ander sake wat ekonomiese bemagtiging op die wyds-moontlike grondslag in ons vallei sal bevorder.
[4.3 Ons taak voortspruitende uit probleem 2.3]
Ons sal saamwerk om ’n gemeenskap te vorm met meer gelykwaardige toegang tot alle soorte hulpbronne. Ons sal probeer om die skepping van menswaardige werksgeleenthede plaaslik te bevorder deur beroepsleiding, vaardigheidsontwikkeling en aansporingskemas, waar nodig. Ons sal die vermoëns en doeltreffendheid van al ons skole probeer onderskraag.
Dit kan geskied deur finansiële bystand aan individuele leerlinge, en deur samewerking tussen die skole, ook ten opsigte van die gebruik van hulle hulpbronne en fasiliteite. Nie ’n enkele kind mag agtergelaat word nie. Ons sal dienooreenkomstig standaarde en toegang tot basiese dienste probeer verbeter, asook tot behuising, gesondheidsorg, vervoer, kindersorg, sport en ontspanning.
[5 Vooruitsigstelling]
Ons glo dat ons ons toekoms in ons hande hou.
Daarom wil ons – in alles wat ons doen – optree vanuit ons bewustheid en oortuiging dat ons gemeenskap deur verskeidenheid en interafhanklikheid gekenmerk word en dat ons ’n omgewing en toekomsbestemming deel.
Ons wil lede van ’n aktiewe burgerlike samelewing wees, saamgestel uit mense wat bewus is van hulle behoeftes, regte en verantwoordelikhede. Ons wil in ’n gesonde, produktiewe en sorgsame gemeenskap leef, waar die menswaardigheid van almal gehandhaaf en gevier word. Ons wil vry en gelukkig wees. Ons wil deel wees van wat Aartsbiskop Desmond Tutu die “Reënboognasie van God” genoem het.
Dit is nie ’n onbereikbare ideaal nie en ons sal nie dekades neem om dit te verwesenlik nie. Ons sal ons bestemming bereik wanneer ons vir ons medemens en ons dorp en vallei omgee op ’n daaglikse, realistiese en volhoubare grondslag – nié omdat iemand ons aansê om dit te doen nie, maar omdat ons glo dat dit in ons eie belang is om dit te doen. Kom ons neem mekaar die hand en deel die verantwoordelikheid om by ’n beter bestemming uit te kom.
Ons, die volgende lede (synde inwoners en vriende van die Franschhoekvallei te wees), onderneem om hierdie visie na te streef: [Lys van persone, maatskappye, kerke, skole en NRO’s, ens. [geteken en gedateer]
Franschhoek toerisme
Webblad van die plaaslike toerismekantoor
’n Alternatiewe webblad oor Franschhoek – met goeie foto’s en baie advertensies – kan gerus ook besoek word.
Verblyf
Petit Plaisir vir luukse privaat verblyf in 'n volledig toegeruste 4-ster kothuis. Swembad, kaggel, internet, skottel-TV, uitsig en geen ander gaste nie! Bel Marlicia Meyer by 021-876-2911 of klik op Petit Plaisir se webbladskakel vir 'n aanlyn bespreking.
Goederust Cottages vir ’n heerlike plaasverblyf. Kontak Ansa Pepler by 021-876-3687.
Happy Valley Lodge. Besoek die webwerf om ’n idee van die besondere omgewing te kry. Willie of Glenys Huggett kan by 021-876-2490 geskakel word.
Sep se plek. Vir ’n heerlike privaat wegbreek – net buite Franschhoek – is “Sep se plek” die ideale tuiste. Hier is drie huisies langs die Franschhoekrivier op die plaas La Dauphine. Bel sommer nou vir oom Simon Malherbe by 083-459-9534.
Heuwelsig Plaashuis bied 'n ruim selfsorg villa met 'n ongelooflike uitsig oor die Franschhoekvallei. Swembad, buite onthaal area, drie slaapkamers (elkeen met sy eie badkamer) en nog baie meer. Net 5 km voor Franschhoek. Skakel Corné Malherbe by 082-959-5836.