Sinode

Sinode

Die Kommunikasiekantoor van die Sinode gee elke week ’n nuusbrief,
bekend as die Vrydagnuus uit. Klik hier om die nuutste nuusbrief te lees.

Webblad van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika
(Sinode van Wes- en Suid-Kaapland)

Webblad van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Webblad van die GKS (Gemeentelike Ontwikkeling en Kerklike Samewerking)

BADISA – die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland se Barmhartigheidsorganisasie.

Verklaring oor Armoede (Maart 2011)

Vrae en Antwoorde oor Belhar (28 Maart 2011)

Verklaring deur die NGK en VGKSA rakende armoede in SA

Die gesamentlike bediening vir Armoede en Sorg van die NGK (Wes-en-Suid-Kaapland) en die VGK (Kaapland) het op 15 en 16 Maart in Bellville met nog 200 afgevaardigdes vergader om saam te besin oor armoede in Suid- Afrika

In die gesamentlike sessies is daar na die volgende sprekers geluister:

Aartsbiskop Thabo Makgoba
Prof Sampie Terreblanche
Mnr Moeletsi Mbeki
Prof Stef Coetzee
Dr Franklin Sonn
Mnr Graham Power
Mnr Tony Ehrenreich
Mnr Jac Laubscher
Prof Russel Botman
Mnr Tim du Plessis
Asook enkele ander verteenwoordigers uit die media en die kerk.

Na die tyd is die volgende verklaring uitgereik

1. Die vergadering het as gelowiges in die Drie-Enige God en lede van twee kerke met ’n gedeelde verlede en ’n gesamentlike toekoms, bymekaargekom om saam te luister na diverse stemme oor die brandende kwessie van armoede. Ons wou graag betrokke raak by ’n proses van geloofsonderskeiding. Ons wou graag na die stem van God self luister. Na twee dae sou dit arrogant wees om te sê dat ons al die antwoorde het, maar ons is wel seker dat ons kommerwekkende asook hoopvolle boodskappe gehoor het.

2. Ons is diep bekommerd oor die groeiende armoede in Suid-Afrika en het bymekaargekom om te soek na sistemiese antwoorde en oplossings vir die probleem. Dit is met ongeduld dat ons onsself as kerke, maar ook alle ander rolspelers in Suid-Afrika, verantwoordbaar wil hou. Met ’n nederigheid maar ook met ’n profetiese dringendheid wil ons dus die volgende verklaar:

· Ons is diep bekommerd oor die huidige stand van opvoeding en onderwys in Suid-Afrika. Ons is dankbaar vir die toewyding van baie onderwysers, maar is ook bekommerd oor ’n skrikwekkende afwesigheid van werksetiek, roepingsbewustheid en kapasiteit by sommige onderwysers en administrateurs. Ons laat ons kinders in die steek en kweek nog ’n verlore generasie. Dit kan eindig in ’n nuwe rewolusie. Ons glo dat die kerk op een of ander manier weer mede-verantwoordelikheid vir die onderwys sal moet aanvaar. Ons besef dat dit unieke uitdagings aan ons stel, maar ons kan nie langer wag nie.

· Ons is diep bekommerd oor die feit dat die regering onaanvaarbare hoeveelhede geld mors. Ons het ’n verbruikersekonomie geskep teenoor ’n ware investerende en produserende ekonomie. Ons is diep bekommerd oor ons groeiende skuldlas en vrees die dag as die geld gaan opraak. Ons is diep bekommerd oor ’n groeiende persepsie dat die staat toelaes gebruik om die ontmagtigde armes te manipuleer vir eie gewin.

· Ons is diep bekommerd oor die groeiende gaping tussen rykdom en armoede in Suid-Afrika (Gini-koëffisiënt) Ons het kennis geneem dat die grootste gaping nou bestaan tussen die nuwe swart elite en die massas werklose swart mense. Nuwe beleid is geskep wat eintlik net ’n klein minderheid bevoordeel, terwyl die groot massas steeds ly. Na 1994 het die ekonomie struktureel min verander. Die gesig van die ekonomiese elite het wel verander.

· Ons het gehoor dat daar ‘n besliste verband tussen swak leierskap en groeiende armoede is. Dit sal aangespreek moet word.

· Ons het opnuut besef dat armoede ’n diep emosionele en psigologiese kant het. Daarmee saam het dit ook ’n diep spirituele dimensie. As volgelinge van Jesus Christus moet ons mekaar gedurig daaraan herinner.

· Ons het opnuut die belang van die burgerlike samelewing besef. Die kerke is deel van hierdie burgerlike samelewing. Die kerke alleen kan hierdie probleem nie oplos nie. Ons wil saam met die ekumeniese wêreld en vennote soos nie-regeringsorganisasies en die sake sektor, hande vat om met ’n eenheidstem te praat. Die stemme van ander kerke en sakeleiers wat ons by hierdie konferensie gehoor het, het ons moed gegee en ons harte warm gemaak. Ons verlang egter ook na die dag wanneer ons waarlik as gelyke vennote met staat en besigheid sal saamwerk om ’n sterk netwerk teen hierdie aanslag te vorm.

· Ons is bekommerd dat ons deel is van ’n samelewing wat die skyn van voorspoed voorhou, terwyl die waarskuwingsligte flikker vir die onderliggende verbrokkeling van die samelewing. Ons sien diep krake as dit kom by ware versoening en heling in gemeenskappe. In baie opsigte is die morele vesels van ons samelewing aan die disintegreer. Sonder enige twyfel verhoog dit die krisis wanneer dit by armoede kom.

· Ons glo dat die hele kwessie van armoede spesifieke uitdagings aan spesifieke sektore van die samelewing rig, maar as ’n kerk behoort ons ons lidmate ook op ’n persoonlike vlak uit te daag. Die bedrag wat jy byvoorbeeld aan jou huishulp betaal, behoort ’n saak vir persoonlike oorweging en nadenke te wees, bo en behalwe die riglyne vir minimumlone wat geld. Hierdie is ’n profetiese uitdaging aan alle welvarende mense. In ’n land waar 20% van die mense 80% van die inkomste en besittings besit, sal ons ons moet verootmoedig voor God en onsself moet afvra wat ons Bybelse verantwoordelikheid is.

· Ons wil die armes egter ook waarsku teen ’n slagoffer-mentaliteit en ’n gesindheid van blaam-verskuiwing. Dit gaan niks verander nie.

· As verenigende kerke wil ons graag meewerk om ’n gesindheid van trots, mede-eienaarskap en lojaliteit onder alle mense in die land te herstel. Rassisme het geen plek in die stryd teen armoede nie.

· Ons wil graag gemeentes en lidmate bedank vir dit wat hulle reeds doen. Ons weet dat ons kerke jaarliks miljoene rande aan barmhartigheidsaksies bestee. Ons wil julle aanmoedig om met ywer daarmee voort te gaan. As kerke sal ons voortgaan om koppe bymekaar te sit oor hoe die probleem ook op praktiese maniere aangespreek moet word.

· As kerke wil ons graag ons solidariteit met die armes verklaar. Ons wil ons eie nalatigheid in baie gevalle bely. Ons wil bid dat ons God ons die genade sal gee om ’n besliste verskil in hierdie geliefde land van ons te maak.

Braam Hanekom (NGK)

Averell Rust (BADISA)

Carl Swart (VGK)

Namens die Bediening vir Armoede en Sorg

Terug

Moderatuur gee antwoorde oor Belhar

29 Maart 2011

Nadat die moderamen verlede jaar die voorstel aanvaar het dat die Algemene Sinode (AS) versoek gaan word om die Belydenis van Belhar as volwaardige belydenis van die NG Kerk te aanvaar, is daar uiteenlopende reaksies van lidmate ontvang. Die moderatuur wil dit graag duidelik stel dat ons die reg op vrye mening erken en die werklikheid van diverse menings binne een kerk respekteer en aanvaar. Dit is egter duidelik dat daar baie onduidelikhede en verwarring rondom die Belydenis van Belhar bestaan wat sterk reaksie ontlok. Die doel van hierdie skrywe aan lidmate is om lig te werp op van die vrae en opmerkings wat soms gehoor word:

1. Waarom nou weer oor die Belydenis van Belhar praat? Is dit maar net om die VG Kerk, wat hierdie geweer voor ons kop hou, ter wille te wees?

’n Belydenis kan nooit aanvaar word omdat iemand anders dit van jou verwag nie.’n Belydenis is ’n persoonlike oortuiging. Ons is oortuig daarvan, dat wat nou van ons gevra word, ’n prinsipiële, teologiese gesprek oor die Belydenis van Belhar moet wees. Die gesprek moet op eie bene staan en mag nie gedryf word deur verwagtinge uit die VGK nie.

Daar is leraars en lidmate in ons midde wat reeds ’n baie lang pad met Belhar kom. Daar is baie van ons vir wie die Belydenis van Belhar ’n eie saak geword het. Ons moet onthou dat daar reeds in 1990 ’n voorstel voor die Kaapse sinode gedien het om die Belydenis as volwaardige belydenis te aanvaar. Die voorstel is destyds met enkele stemme afgestem, maar daar is wel deur die sinode beslis dat daar teologies niks met die inhoud verkeerd is nie.

Alhoewel dit na ’n oënskynlike teenstrydigheid mag klink, is daar tydens die moderamen se debat oor die besluit onder andere gesê dat ons juis die gesprek oor die belydenis wil losmaak van die huidige gesprek oor kerkeenheid met die VGK. Dit is wel so dat Belhar baie duidelik en onomwonde oor sigbare eenheid praat, maar nêrens self ’n model voorskryf nie. Die debat oor Belhar gaan dus beslis nie in die eerste plek oor hoe die model vir kerkeenheid moet lyk nie. Dit wil wel baie duidelik van die teologiese vertrekpunte waarmee die NG Kerk in hierdie dae behoort te funksioneer, uitklaar.

Dit is ons oortuiging dat ons huidige belydenisskrifte wel oor eenheid, geregtigheid en versoening praat, maar nêrens so duidelik en reguit soos Belhar nie. Dit is daarom ons diepe oortuiging dat Belhar die teologiese skat wat daar binne die gereformeerde tradisie bestaan op ’n unieke manier aanvul en verryk, juis vir die tyd waarin ons leef.

Dit is al meermale gesê, maar laat ons dit weer sê: Dit is so dat Belhar opgestel is in ’n tyd toe die opstellers en vroeë aanvaarders daarvan intense onreg ervaar het. Onreg is egter steeds deel van ons samelewing – op talle vlakke van die samelewing. Daar is tans ook baie NG lidmate wat ly as gevolg van onreg. Ons is oortuig daarvan dat Belhar ’n tydlose belydenis is wat op veel meer kontekste van toepassing gemaak kan word. Ons sien dit ook in die feit dat talle kerke van regoor die wêreld die belydenis reeds aanvaar het of in ’n proses is om dit te aanvaar.

2. Het ons nie reeds genoeg belydenisse nie?

In ’n sekere sin het ons die vraag reeds hierbo geantwoord, maar ons voeg graag die volgende by. Oor ’n baie belangrike deel van die besluit van die moderamen is daar tot dusver nie in die openbare media gerapporteer nie, naamlik, dat die moderamen ook bekommerd is oor die rol wat ons bestaande belydenisse tans in die kerk speel of nie speel nie. Ons is byvoorbeeld daarvan oortuig dat min lidmate regtig nog vertroud is met die inhoud daarvan. Die vraag word ook veral deur sommige jonger lidmate gevra of die kerk in dié dae nog erns moet maak met belydenisse. Die moderamen het gevoel dat die tyd aangebreek het dat die kerk ernstig hieroor praat. In tye waar daar talle kompromieë aangegaan word oor die waarheid, is daar gevoel dat daar ook nou duidelik gepraat behoort te word oor ander kernsake van die geloof.

Uit die geskiedenis blyk dit duidelik dat daar van die vroegste tye, juis vanweë die uitdagings wat die oomblik soms rig, groot erns met belydenisse gemaak is in die kerk. Nie alle gelowiges het altyd eenders oor belydenisse, belydende verklarings en die status daarvan gedink nie. Oor alle eeue heen het dit egter die kerk vergesel en begelei.

Vir lank het die oer-Christelike belydenis: Jesus Christus is die Heer, die vroeë kerk gerig. Daar was ook die belydenisse van Athanasius, Nicea en Chalcedon. In die Gereformeerde wêreld spesifiek, vind ons die Drie Formuliere van Eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), Heidelbergse Kategismus (HK) en die Dordtse Leerreëls). Binne die Lutheraanse tradisie vind ons die Augsburgse Konfessie en Luther se Kategismus. Dan is daar nog die Barmenverklaring van 1934, en die Presbyterian Confession van 1967. Hierdie is maar enkele voorbeelde.

In die Formuliere van Eenheid word omskrywings gegee van hoe die kerk onder andere dink oor God, die persoon van Christus, die Heilige Gees, die Skrif, die skepping en sondeval, maar dan ook die verlossing in Christus, die kruisiging en opstanding, die uitverkiesing, die wet en dissipline, heiligmaking, volharding, die ware kerk en die sakramente. Hierdie “antwoorde” is veral gegee in reaksie op wat die kerk gemeen het dwalinge in daardie tyd en konteks hieroor was. Die kerk het gevoel dat die hart van die evangelie op die spel is en dat daar ernstig en reguit hieroor gepraat moet word. In die jare tagtig het daar ’n belydende stem uit ons eie konteks weerklink wat onomwonde sê dat die kerk ewe reguit en duidelik moet praat oor eenheid, die versoening van mense onderling met mekaar en geregtigheid. Dit word nie tans so in ons bestaande belydenisse omskryf nie. Soos oor alle eeue glo ons egter dat die Skrif ons rig en dat die kerk ’n verantwoordelikheid het om helder en duidelik te getuig oor sake wat ons lewe en samelewing tot op die been raak. Ook hieroor wil ons dus praat en bely.

Ons glo dat die Belydenis van Belhar ons op ’n verrassende manier kan help om oor veel meer as net die inhoud daarvan te praat. Gelowiges skuld mekaar die gesprek dringend. Ons glo dat Belhar ons kan help om met ’n evangeliese stem reguit oor die uitdagings van ons dag te praat, maar terselfdertyd die kern-waarhede van ons geloof te herwin.

3. Gaan ons dit nou in die kerk moet opsê?

Nee, ons voorsien dit nie, net soos wat ons ook nie ons bestaande drie formuliere van eenheid opsê nie (HK, NGB en Dordt). Ons sê wel steeds die Apostoliese geloofsbelydenis op. So was dit deur die jare en is dit op die oomblik. Belhar is nie bedoel om opgesê te word nie, maar om, soos ons ander belydenisse, uitgeleef te word. Ons sal waarskynlik wel daarvan wil leer, omdat dit so Bybels is en deur tientalle Skrifgedeeltes gerugsteun word. Die temas wat aangeraak word, is immers so ontsaglik belangrik vir ons dag.

4. Roep Belhar mense op om met geweld op te staan teen die staat?

Die Belydenis van Belhar bestaan uit 5 artikels. Dit begin met die verklaring van ons geloof in die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Daarna volg drie artikels wat handel oor die temas van 1) die eenheid van die kerk, 2) die oproep tot versoening en 3) die verbintenis tot geregtigheid. Dit word met Bybels-teologiese formulerings uitgewerk, terwyl die laaste artikel soos volg lui:

“Ons glo dat die kerk geroep word om dit alles te bely en te doen, in gehoorsaamheid aan Jesus Christus sy enigste Hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen

wees en al sou straf en lyding daaraan verbonde wees. (Ef 4:15-16, Hand 5:29-33, 1 Pet 2:18-25, 1 Pet 3:15-18). Jesus is die Heer. Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid in ewigheid.”

Om hieruit – en veral in die konteks van die voorafgaande drie artikels – af te lei dat hierdie belydenis “opstand teen die staat/regering” bepleit, is ’n totaal en al wanvoorstelling van die Belydenis van Belhar. Hierdie aangehaalde sin druk eenvoudig die vaste oortuiging uit dat, met hierdie belydenis die hart van die Evangelie van Jesus Christus op só ’n wyse op die spel is, dat dit die Christen-geloofsgemeenskap oproep tot volharding daarmee, selfs al sou dit beteken dat ons daardeur bepaalde lyding op onsself bring. En dis presies wat met Jesus self gebeur het: die kruisdood.

5. Belhar is ’n politieke (“UDF”) geskrif wat deur Allan Boesak geskryf is.

Die ontstaangeskiedenis van die Belydenis van Belhar kan teruggevoer word na gesprekke onder teologiese studente aan die UWK in die laat sewentiger jare en wat later uitgeloop het in ’n beskrywingspunt aan die sinode. Hieruit het die versoek om die opstel van ’n belydenis gevolg. Dr. Boesak was deel van die kommissie wat daaraan moes werk, maar (en dit is welbekend) die belydenis is in wese een nag tydens die sinode deur prof Dirkie Smit geskryf, daarna deur die hele kommissie, wat bestaan het uit prof Gustav Bam (sameroeper), prof Jaap du Randt, dr Dirkie Smit, ds Izak Mentor (moderator) en dr Allan Boesak (assessor), verfyn en na die sinode geneem. Wat egter belangriker is, is dat dit ’n besluit van ’n kerkvergadering was (die sinode van die NG Sendingkerk) en nie ’n besluit van enkelinge nie.

6. Wanneer gaan die NGK leer om eers (lands-) politiekery te staak en eerder te konsentreer op die “Koninkryk”?

Ons dink dit is ’n baie gevaarlike teenstelling. Die Evangelie van Jesus Christus maak dit baie duidelik dat die lot van gewone mense vir God ongelooflik belangrik is. Dit is presies waaroor die profete gegaan het. Gaan lees maar weer Amos, Miga en al die ander. Dit was in die dag intense (lands)politiek wat aangespreek is EN die profete is daarvoor verguis. Toe die NG Kerk in die dertigerjare die armblanke kwessie aangespreek het en politici na hul vergaderings genooi het, het geen haan daarna gekraai nie. Toe was dit reg, want dit het “ons” mense en “ons” belange geraak. Belhar spreek dieselfde kwessies aan, maar dié keer net vir almal – regoor die wêreld! – en wel in suiwer Bybelse en teologiese (selfs gereformeerde as jy wil) taal. Die Koninkryk van God het baie kante. Ons erken die wesenlike belang van Matt. 28: Jesus se laaste woorde, maar daar is ook ’n Luk 4 :18-19, van Jesus se eerste woorde…

7. Waarom nou die saak weer op lidmate af forseer?

Die moderamen het gevra dat die Algemene Sinode oor Belhar ’n besluit moet neem. Dit was ’n 100% kerkordelik-korrekte versoek (Sien Art 6.1 van prosedures re AS). Art 44 van die Kerkorde (KO) bepaal ook baie duidelik hoe dinge nou moet verloop. Art. 44 is ook ’n sogenaamde “verskanste artikel” wat dit onmoontlik maak dat enigiets op lidmate af forseer word. Ons stel voor dat diegene wat daaroor bekommerd is hulself deeglik van die inhoud van die artikel vergewis. Die moderamen versoek nou die AS om die korrekte prosedure te volg. Ons glo dat leierskap ’n verantwoordelikheid het om leiding te gee. ’n Mens hoor die versugting deesdae dikwels. Dit is ons roeping en dit is wat ons nou doen.

8. Moet die VGK nie eerder voor hulle eie deur vee nie?

Ja, natuurlik moet ons elkeen voor ons eie deur vee. Voor ons deur gaan dit egter nooit skoon kom as ons heeltyd na ander se deur sit en kyk nie. Die moderamen het hul eie frustrasies met onder andere die moratorium wat die VGK oor gesprek met die NGK uitgeroep het. Die VGK is egter nie die punt nie! Dit is nou ons en die Liewe Here. Is ons gereed om regtig met hart en siel ’n strewe na eenheid, versoening en geregtigheid in die land te na te jaag? Ons is absoluut oortuig daarvan dat die wêreld die Belydenis nou nodig het! Elke dag se koerant en nuus bevestig die verskriklike konflik wat oral heers. Belhar wil in eenvoudige taal sê dat Christus se versoeningswerk die onmoontlike moontlik maak. Belhar wil eintlik net sê dat diegene wat dink dit is nie moontlik nie en ander (politieke planne) maak om ’n mensgemaakte orde te probeer skep, dit verkeerd het.

9. ’n Laaste gedagte

Ons hele land en samelewing het heling nodig. Ons dink dat die Belydenis van Belhar die NGK se Rubicon is om heel te raak van die wonde van die verlede. Ons sukkel steeds meer daarmee as wat ons self sal wil erken. Die emosionele reaksie van sommige mense op die hernude bekendstelling van Belhar, bevestig DIT. Iemand vra nou die dag: “Kan ons nie maar net ’n klipstapeltjie pak, ’n os slag en aangaan nie?” Wel, ons dink Belhar is ons klipstapeltjie! Dit sal ons help om met waardigheid en integriteit na die ongeregtighede van die verlede te leef. Dominees sal met nog groter vrymoedigheid kan preek oor eenheid, versoening en geregtigheid – nie polities korrek nie – maar soos die Evangelie ons leer! Belhar sluit af met die woorde: Jesus Christus is die Heer! Dit bly ons diepste oortuiging.

Vriendelike groete

Braam, Nelis, Monty, Hannes, Ben, Francois, Franziska, Elize

(synde die Moderatuur van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika te wees)

Sentrum vir Kommunikasie
Privaatsak X8, Bellville, 7535
Tel: 021 957-7195
Faks: 021 957-7197
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Van ons Facebook blad

Kalender

October 2017
M T W T F S S
25 26 27 28 29 30 1
2 3 4 5 6 7 8
9 10 11 12 13 14 15
16 17 18 19 20 21 22
23 24 25 26 27 28 29
30 31 1 2 3 4 5

Categories

Archives

wordpress stats plugin