Die Belydenis van Belhar

 

Die Belydenis van Belhar

 

Agtergrond Die Belydenis van Belhar (B Belhar) is in 1982 in konsepvorm deur die Sinode van die Ned geref Sendingkerk (NGSK) goedgekeur en in 1986 in finale vorm as belydenisskrif van die kerk aanvaar.

 

Die agtergrond vir die B Belhar lê in sterk besluite teen die Nasionale Party regering se beleid van apartheid, wat reeds op die Sinode van 1978 deur die NGSK geneem is. Hierdie besluite het ‘n groot invloed gehad op die vergadering van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke wat in 1982 in Ottawa gehou is. Daardie invloed is versterk deur twee ander getuienisse uit Suid-Afrika: die Teologiese Verklaring van die Broederkring van die Ned Geref Kerk wat uit Swart, Bruin en Indiër-predikante bestaan (1979) en die vyf artikels van die Teologiese Grondslag van ABRESCA (1981). Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke het in die lig van die getuienis voor hom verklaar dat die situasie van apartheid ‘n ‘status confessionis’ laat ontstaan het. ‘n ‘Status confessionis’ verwys na ‘n situasie wat sodanig ontwikkel het dat die Kerk nie meer kan stilbly daaroor nie. Die situasie van apartheid in Suid-Afrika is deur die Wêreldbond tot ‘n sonde verklaar en die teologiese en morele verdediging daarvan is veroordeel as ‘n karikaturisering van die evangelie, wat in sy volgehoue ongehoorsaamheid aan die Woord van God ‘n teologiese kettery is. Die Sinode van die NGSK het homself in 1982 met die uitspraak van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke vereenselwig en daaruit die konklusie getrek dat ‘n belydenis geformuleer moes word om aan hierdie oortuiging uitdrukking te verleen. ‘n Konsep-belydenis is binne enkele dae aanvaar, gedurende die volgende jare deur die kerkrade bespreek en in 1986 as belydenisskrif van die NGSK bekragtig. Die belydenis het ‘n eenvoudige opset. Dit bestaan uit vyf artikels wat almal oor die kerk handel. Die Ned Geref Kerk het tot die slotsom gekom dat die Belydenis van Belhar nie as in stryd met die Woord van God en die gereformeerde belydenisskrifte beskou kan word nie. Die Algemene Sinode van 1990 het verklaar dat dié belydenis geen struikelblok in die verhouding tussen die twee kerke hoef te wees nie.

 

Die Belydenis van Belhar: Basiese struktuur Hierdie kort belydenisskrif bestaan uit vyf artikels. Die eerste en laaste artikels sluit aan by die belydeniserfenis van die Gereformeerde kerke deur eers ons geloof in die drie-enige God te erken en laastens ons verantwoordelikheid tot gehoorsaamheid te beklemtoon. Die middelste drie artikels handel oor die kerk, versoening en geregtigheid. In hierdie artikels word daar ook duidelik gestel watter verkeerde leringe verwerp word. Die styl van die B Belhar is doksologies (om God te prys). Daar word baie van Bybelse uitdrukkings, frases en sinspeling gebruik gemaak. Daar word op baie maniere by die bestaande belydenisskrifte aangesluit.

 

Skematies lyk die B Belhar as volg: Artikel 1 bely die geloof in die drie-enige God. Hier word by die ‘oerbelydenis’ van die kerk aangesluit. Artikel 2 bely die eenheid van die kerk as ‘n gawe en ‘n opdrag. God wil ‘n kerk en die eenheid van daardie kerk moet sigbaar en werksaam wees. Die enigste voorwaarde vir lidmaatskap van die kerk is geloof in Jesus Christus. Artikel 3 bely dat die kerk ‘n versoende gemeenskap is. God kan en wil Christene wat versoen is met Hom, in staat stel om werklik versoend met mekaar te lewe. Die boodskap van versoening word ongeloofwaardig gemaak wanneer ‘n land op christelikheid aanspraak maak, maar gedwonge skeiding tussen mense bestendig. Artikel 4 bely dat God as God van geregtigheid die Hulp van die hulpelose is en Hy roep sy kerk om Hom daarin na te volg. Daarom moet die kerk mense in hul nood bystaan en getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid. Artikel 5 sluit by die NGB artikel 28 aan en bely dat gelowiges geroepe is om aan God gehoorsaam te wees. As ons in groter getrouheid volgens hierdie belydenis sal leef, sal dit ingrypende gevolge hê vir ons kerkwees in hierdie land.

Die Belhar Belydenis

Die Belhar Belydenis is in 1986 amptelik deur die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suider Afrika aanvaar. Dit het gevolg op die afkondiging van ‘n status confessionis in 1982, in verband met die verwerping van die verdediging van apartheid op morele en teologiese gronde.

1. Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy Kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.

2. Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.

Ons glo dat die versoeningswerk van Christus sigbaar word in dié kerk as geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is;

dat die eenheid van die kerk van Jesus Christus daarom gawe én opdrag is; dat dit ’n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees maar terselfdertyd ’n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou moet word;

dat hierdie eenheid sigbaar moet word sodat die wêreld kan glo dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense en mensegroepe sonde is wat reeds deur Christus oorwin is en dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie, maar bestry moet word;

dat hierdie eenheid van die volk van God op ’n verskeidenheid van maniere sigbare gestalte moet kry en werksaam moet wees, daarin dat ons mekaar liefhet, gemeenskap met mekaar beleef, najaag en beoefen; daarin dat ons skuldig is om onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillig en met vreugde te gee; daarin dat ons een geloof deel, een roeping het, een van siel en een van sin is, een God en Vader het, van een Gees deurdrenk is van een brood een en uit een beker drink, met een doop gedoop is een Naam bely, aan een Heer gehoorsaam is, vir een saak ywer, een hoop met mekaar deel saam die hoogte en breedte en diepte van die liefde van Christus leer ken: saam opgebou word tot die gestalte van Christus, tot die nuwe mensheid saam mekaar se laste ken en dra en so die wet van Christus vervul; mekaar nodig het en mekaar opbou, mekaar vermaan en mekaar vertroos, saam met mekaar ly vir die geregtigheid, saambid, saam diensbaar is aan God in hierdie wêreld, saam stry teen alles wat hierdie eenheid mag belemmer of bedreig;

dat hierdie eenheid slegs in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie; dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en kultuur, vanweë die versoening in Christus geleenthede is tot wedersydse diens en verryking binne die een sigbare volk van God;

dat die ware geloof in Jesus Christus die enigste voorwaarde is vir lidmaatskap van hierdie kerk.

Daarom verwerp ons enige leer wat óf die natuurlike verskeidenheid óf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot ’n aparte kerkformasie;

wat voorgee dat hierdie geestelike eenheid werklik bewaar word deur die band van die vrede wanneer gelowiges met dieselfde belydenis van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid en vanweë die onversoendheid;

wat ontken dat ’n weiering om hierdie sigbare eenheid as ’n kosbare gawe na te jaag sonde is;

wat, uitgesproke of onuitgesproke, voorgee dat afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore medebepalend is vir lidmaatskap van die kerk.

3. Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem word omdat hulle vredemakers is; dat die kerk deur woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon;

dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheld en haat, bitterheid en vyandskap, oorwin het; dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees sy volk in staat stel om te leef in ’n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring;

dat hierdie boodskap ongeloofwaardig gemaak word en dat die heilsame uitwerking daarvan in die weg gestaan word indien dit verkondig word in ’n land wat op Christelikheid aanspraak maak, maar waarin die gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag onderlinge vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig;

dat enige leer wat sodanige gedwonge skeiding vanuit die evangelie wil legitimeer en dit nie wil waag op die pad van gehoorsaamheid en versoening nie, maar uit vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof die versoenende krag van die evangelie by voorbaat verloën, ideologie en dwaalleer is.

Daarom verwerp ons enige leer wat in die naam van die evangelie of die wil van God die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in so ’n situasie sanksioneer en daardeur die bediening en belewing van die versoening in Christus by voorbaat belemmer en van krag beroof.

4. Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy dié wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat vir Hóm reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek;

dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en sal stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom;

dat die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die veronregtes; dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel.

Daarom verwerp ons enige ideologie wat vorme van veronregting legitimeer en enige leer wat nie bereid is om vanuit die evangelie so ’n ideologie te weerstaan nie.

5. Ons glo dat die kerk geroep word om dit alles te bely en te doen, in gehoorsaamheid aan Jesus Christus, sy enigste Hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbonde wees.

Jesus is die Heer.

Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid in ewigheid.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Van ons Facebook blad

  • Graag verneem ek wie preek Sondag?

    May 18

  • Johan by #Kaapsinode2019

    May 17

  • May 16

  • Kom skenk bloed tot 7uur vanaand by die kerksaal.

    April 30

  • Ons wil graag vir almal baie baie dankie sê vir elke bydrae wat ons kon saamneem wat "hoop" kon gee in die gemeenskap van Fraserburg tydens die droogte. Kyk gerus die videoclip en lees die getuienis van Henry Jonker wat saamgereis het. Geseënde Paasfees Videoclip https://www.youtube.com/watch?v=A-JQrlka4A8&feature=youtu.be Getuienis Henry http://www.henry.co.za/avonture/droogtehulp-na-fraserburg/ https://www.youtube.com/embed/A-JQrlka4A8

    April 19

Kalender

March 2019
Monday Tuesday Wednesday Thursday Friday Saturday Sunday
February 25, 2019 February 26, 2019 February 27, 2019 February 28, 2019 March 1, 2019 March 2, 2019 March 3, 2019
March 4, 2019 March 5, 2019 March 6, 2019 March 7, 2019 March 8, 2019 March 9, 2019 March 10, 2019
March 11, 2019 March 12, 2019 March 13, 2019 March 14, 2019 March 15, 2019 March 16, 2019 March 17, 2019
March 18, 2019 March 19, 2019 March 20, 2019 March 21, 2019 March 22, 2019 March 23, 2019 March 24, 2019
March 25, 2019 March 26, 2019 March 27, 2019 March 28, 2019 March 29, 2019 March 30, 2019 March 31, 2019

Archives

wordpress stats plugin